‘DIE LEWE IS ‘N GESKENK,’ sê LINDA

Artikel deur Michelle van der Spuy, Eikestad Nuus

Dit het alles begin toe Linda Korkee (49) ‘n knop in haar borskas gevind het – ‘n knop wat die eerste dokter wat haar ondersoek het as skadeloos afgemaak het.
‘n Tweede mening in 2014 van ‘n dokter wat self kanker gehad het en verdere toetse, het egter daartoe gelei dat borskanker, wat na haar beendere versprei het, by haar gediagnoseer is. “Die dokter het nie regtig iets gesê oor hoe die pad vorentoe gaan lyk nie.” Hy kon haar net raad gee oor watter leefstylveranderinge sy sou moes maak. Aangesien sy probleme met haar rug gehad het, moes sy onmiddellik haar werk as gehaltekontroleerder by Rhodes Food Group laat vaar. “Daar is trappe op en af by die fabriek en ek kon nie meer doen wat ek gedoen het nie.”
Sy ontvang tans elke drie maande behandeling by die Tygerberg-hospitaal om onder meer haar bene sterk te maak. Wanneer sy ekstra versorging nodig gehad het, kon sy nog altyd aan Stellebosch-hospice se deur gaan klop.
“Mense het ‘n wanindruk van die hospice. Jy gaan nie soontoe om te sterf nie, maar om gehelp te word. Hulle gee nie net medikasie nie, maar ook ondersteuning soos emosionele ondersteuning wanneer jou emosies begin wipplank ry. Jy kan ook soontoe gaan as jy moet rus.”
Om kanker te hê, is ‘n nuwe ervaring waarvoor niemand jou kan voorberei nie, vertel sy. Sy het nie geweet wat alles met haar lyf gaan gebeur nie en niemand kon haar vertel wat om te verwag nie. “Jy moet self ‘n pasiënt wees om regtig te besef waardeur ‘n mens gaan en wat regtig op jou wag. Niemand se ervarings is dieselfde nie. Mense hanteer dit ook nie dieselfde nie. Miskien is dit vir jou maklik en vir my moeilik.
“Almal kan nie ewe positief daaroor wees nie. Die woord kanker op sy eie sit mense klaar af en laat party opgee. Ek het gedink dit is nou klaar met my, veral omdat dit versprei het. Dit was vir my moeilik en intens omdat alles so vining gebeur het.”
Die werklikheid van haar siekte het eers later by haar ingesink toe sy in November 2014 met bestraling begin het en kans gehad het om tot verhaal te kom. Sy het besef dat sy vrede met die situasie moes maak.
“Om te lewe is ‘n voorreg, nie ‘n moet nie.”
As jy nie vrede maak nie, kan jy nie vorentoe beweeg nie. Baie mense sê vir jou dat jy nie vrede moet maak darmee nie, want dan lyk dit asof jy die siekte aanvaar. Maar die siekte is in my liggaam. Die beste vir my was om dit te aanvaar sodat die pad vorentoe ‘n bietjie makliker kan wees.”
Sy sê as kanker by ‘n mens gediagnoseer word, is dit ‘n swaar ding wat soos ‘n donderte oor jou hang. Haar geloof en haar familie het haar egter sterk gehou en sy het ‘n lewensles deur die ervaring geleer.
“Ek het geleer om nie die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie. Om te lewe is ‘n voorreg, nie moet nie. Dit is ‘n geskenk wat ons by die Here gekry het. En lewe reg met mekaar! Deel liefde uit – dit kos mos nie geld nie.”